Almal word hartlik genooi vir koffie/tee na die diens onder die afdak
Geen Kategese tydens skoolvakansies nie
Geen Kategese tydens skoolvakansies nie
Vir enige navrae kontak gerus die kerkkantoor by 012 335 0611 | 067 723 5359 | kerkkantoor@ngmootvallei.co.za
‘n Tuiste waar:
“19Hierdie hoop besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan…”
Hebr 6:19-20
Waarop bou jy jou hoop vir die toekoms? Ons het hoop wanneer dinge nie te sleg lyk nie. Terwyl ons ‘n inkomste het, het ons darem nog moed. Terwyl ons ‘n geldjie kan belê in aandele wat dalk later kan styg, het ons darem iets om aan vas te hou. Ons gooi die anker van ons hoop dikwels in die vreemdste plekke. Ons eie, menslike vermoë is soms ons vertroue.
Die beeld van ‘n anker is in die vroeë kerk gebruik as teken van hoop. Hierdie teken is dikwels in die wegkruipplekke van Christene gekry. Dit is op grafte gegraveer, waar dit gelyk het asof die dood die laaste woord oor ons het. Die anker se dwarsstok herinner ook aan ‘n kruis. Vir die vroeë Christene was hierdie teken ‘n belydenis: In ‘n wêreld van vervolging, verlies en onsekerheid het dit hulle vaste hoop in Jesus verbeeld.
Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker. Hebreërs 6:19-20 herinner ons aan die betroubaarheid van Jesus se soenverdienste. Let op die beeld: Waar ‘n gewone anker afsak in die diepte, word hierdie anker opwaarts gegooi, tot binne die heiligdom, in God se teenwoordigheid self.
Ons hoop hang nie af van wisselende omstandighede nie. As alles rondom jou wegval, dwing dit jou om die ware hoop te ontdek. Die lewe se golwe slaan dikwels hoog en genadeloos teen die skip van ons bestaan. Storms van onsekerheid, teleurstelling en vrees dreig soms om ons mee te sleur. Maar ons hoop is geanker in Jesus se soenverdienste. Soos ‘n verkenner het Jesus ons vooruitgegaan en ons toekoms vasgemaak, sodat ons nou kan deel in God se teenwoordigheid. Dit staan vas.
‘n Anker is onsigbaar wanneer dit diep in die see in die sand vassit. Al sien die matrose dit nie, is hulle tevrede dat hulle geanker is. Ons is ook hoopvol in die golwe van die wêreld. Ons sien nie altyd die hemelse realiteite nie, tog is ons tevrede dat ons deur die hoop in Christus daaraan gebind is.
My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
dis my anker, my vaste hoop.
Lied 292:1
Ds. Wouter de Vos
012 335 0611 | 067 723 5359 | kerkkantoor@ngmootvallei.co.za